buffel
(Syncerus Caffer)






Buffel
Die buffel of Kaapse buffel (Syncerus caffer) is ‘n gelyktonige hoefdier van die familie Bovidae (beesagtiges), en die subfamilie Bovinae.
Die buffel is enorm groot, swaargebou en beesagtig in voorkoms. Volwasse bulle se velkleur is donkerbruin tot swart. Die koeie se velkleur is gewoonlik ligter. Jong buffels se vel het ‘n rooibruin voorkoms. Die hare van die pels is kort en grof, en word yler met toenemende ouderdom.
Hulle het groot koppe, dik nekke, massiewe liggame en betreklike kort bene, met groot swaar hoewe. Die horings is swaar en enorm, en die sentrale horingbasis is veral by die bul goed ontwikkel. By ou bulle smelt die horingbasis van die twee horings oor die voorkop saam. Die horings buig eers af- en buitewaarts, en dan op- en binnewaarts, en word al dunner tot by skerp punte. Die ore is groot en hang onderkant die horings. Die stert is soortgelyk aan dié van ‘n bees en het ‘n kwas van lang bruin of swart hare.