Neushoring






Neushoringvoëls
Neushoringvoëls (Bucerotidae) is ‘n familie van voëls in die orde van Bucerotiformes.
Neushoringvoëls se kenmerkendste eienskap is die groot snawels wat sydelings afgeplat en na onder geboë is. By die meeste spesies, en veral by mannetjies, word dit verder vergroot deur ‘n snawelrif op die bosnawel.
Die meeste van die spesies wat in Suider-Afrika aangetref word, behoort tot die genus Tockus. Die bekendstes hiervan is die grysneushoringvoël (Tockus nasatus), die rooibekneushoringvoël (Tockus erythrorhynchus), die geelbekneushoringvoël (Tockus flavirostris) en die gekroonde neushoringvoël (Tockus alboterminatus).
Ander neushoringvoëls wat dikwels gesien word, is die boskraai (Bycanistes buccinator) en die bromvoël. Die bromvoël is groter as die res en oorwegend swart, met ‘n helderrooi vel aan die keel.