renoster
(Rhinocerotidae)






Renoster
Die renosterfamilie (Rhinocerotidae) is herbivore wat gekenmerk word deur hulle aansienlike grootte (meer as ‘n ton in gewig), ‘n dik beskermende vel van 1,5 – 5 cm dik, betreklike klein breinvolumes (500 – 600 g) in vergelyking met hul liggaamsgrootte, en die teenwoordigheid van een of meer groot horings vooraan hulle koppe.
Die gemiddelde gewig van volwasse renosters wissel van 700 – 800 kg vir die kleinste spesie, die Sumatraanse renoster, tot meer as 2000 kg vir die Wit- en Indieserenosters. Die grootse witrenosters weeg in die omgewing van 3600 kg. Die renosterbulle is gewoonlik swaarder as die koeie.
Sommige spesies, soos die wit- en Indieserenosters eet meestal gras, terwyl ander spesies, soos die swart- en Sumatraanse renosters oorwegend blare eet. Renosters het nie voortande wat gebruik word om plantmateriaal mee af te byt nie, maar gebruik eerder hul lippe om kos mee te pluk. Hulle lippe het dan ook kenmerklike vorme, met grasvretende renosters wat plat breë lippe het wat goed werk om gras mee te pluk, en blaarvretende renosters wat skerper gepunte lippe het.